Agrimark Upington het onlangs OFM radiostasie en Round Table Southern Africa se Groot Vet Kombers Proe-jek ondersteun waarin R450 000 vir liefdadigheid ingesamel is.
As deel van die projek, het die OFM-span vier dorpe en stede in hul uitsaaigebied besoek (Upington, Vryburg, Potchefstroom en Welkom) waar vetkoeke teen 'n minimum donasie van R35 verkoop is. In sommige dorpe is donasies van tot R10 000 ontvang.
OFM het Upington op 24 Junie besoek waar hulle vir die dag vanaf die Agrimark Upington tak uitgesaai het. Agrimark Upington het met bewusmaking gehelp deur inwoners op sosiale media aan te moedig om hierdie goeie doel te ondersteun. Nóg gees is op die dag gebou met gelukstrekkings by die winkel. Die Upington-been van die projek het meer as R100 000 ingesamel! “Ons het 'n beroep gedoen op al ons klante en vriende in Upington om ons te help om almal in die gemeenskap gedurende die winter warm te hou. As deel van die projek was daar ook houers in die tak waar die gemeenskap items vir minderbevoorregtes kon skenk. Met hulle hulp kon ons die houers met komberse, klere en nie-bederfbare kruideniersware vul wat onder diegene wat dit die nodigste het, versprei is,” sê Werner Kruger,
Streekbestuurder: Handel Noord-Kaap, met trots.
“Die dag was vol energie. Dit was ‘n eer vir Agrimark Upington om deel te kon wees van hierdie inisiatief. Dankie aan ons Upington klante en lede van die plaaslike gemeenskap wat ons ondersteun het.”